Ingrid

Oeuvre

Lettie Viljoen debuteer in 1984 met Klaaglied vir Koos. Hierdie novelle word opgevolg deur Erf in 1986. Beide hierdie twee novelles handel oor die stryd van 'n vrou om vir haar en haar kind 'n plek in die samelewing te skep. Haar volgende roman Belemmering verskyn in 1990. Die soeke na 'n eie identiteit staan voorop in hierdie roman.Anders as in die vorige twee boeke word die verhaallyn van die vrou, Hannah, afgewissel met dié van 'n groep mans, oënskynlik op'n militêre sending, wat in die berge skuil en wag op 'n opdrag van hul leier. Van belang in hierdie roman is die onvermoë van die karakters om die situasies waarin hulle verkeer, te hanteer. Talle gesprekke/intertekste oor die volksgeskiedenis, kuns, filosofie, en so meer ondermyn die handelingslyn.. Soos in Erf, speel die verwysings na skilderye of skilders ook 'n belangrike rol. Die fragmentariese vertelstyl, waarvan daar ook in die vorige twee novelles sprake is, word hier meer uitgebrei. Hierdie teks daag die leser se konvensionele leesstrategieë uit. Karolina Ferreira (1993), waarmee Viljoen die M-Net prys verower het, is weer ‘n "makliker" teks, maar tegelykertyd ook ‘n meerfasettige prosawerk. Daar word weer gekonsentreer op die vrou wat ‘n posisie en eie identiteit in 'n patriargale samelewing soek , maar terselfdertyd word daar ook gekyk na die psige van die Afrikaner soos wat dit manifesteer in die lewe op die plattelandse dorpie Voorspoed. In Landskap met vroue en slang, wat in 1996 verskyn, wyk Viljoen af van die konvensionele vertelstyl wat in Karolina Ferreira voorkom. Die "verhaal" bestaan uit oënskynlik los fragmente van alledaagse ervarings . In teenstelling tot die vrou in Klaaglied vir Koos, word die identiteit van die vrou, Lena Bergh, nie langer uitsluitlik deur dié van haar man bepaal nie. Ook in hierdie teks is intertekstuele gegewens rondom die beeldende kunste, die kunsgeskiedenis en die filosofie prominent.

Begin van bladsy

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Data navorsing en samestelling deur:
Nelia Oets
Baukje Stam
Janine Joubert

Bladsy- en grafiese ontwerp:
MedImage
agapeicon.jpg (3938 bytes)