| Landskap met vroue en slang Deur Lettie Viljoen Uitgewer: Human & Rousseau 1996 |
![]() |
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
| "Lena Bergh is 'n skilder
wat hunker na die sublieme landskap. Sy verlang na 'n ander landskap as die subtropiese
voorstede waarin sy haar bevind. In hierdie roman word sy in haar wisselende verhoudings
met 'n aantal mense óm haar uitgebeeld. Op haar roete deur die welige parke en tuine van
die stad word Lena vergesel deur haar vriende, die gedrewe skrywer Mara Darboven, en die
eiesinnige digter Keet. Die beswerende stemme van dokter Kafka en Martjie verbind haar
daagliks met die droefheid van die volk daarbuite. Die leser leer die obsessies ken van
Lena se buurvrou, Molly Bloem, by wie Johnny Deventer loseer om uit te vars. Dit is maar
enkele van die figure wat Lettie Viljoen in Landskap met vroue en slang met
haar kenmerkende kombinasie van deernis en humor uitbeeld. Een van die belangrikste
verhoudings in die roman is dié tussen Lena en haar man, Jack de Leeuw. Op ongewone en
indringende wyse word hierdie intieme verhouding uitgebeeld. "Lettie Viljoen se nuwe roman is 'n kragtoer van poëtiese intensiteit. Verskeie landskappe, karakters en verhale word gejukstaponeer en ineengevleg in 'n boeiende ontdekkingstog wat op verskeie vlakke geskied: uiterlik en innerlik, die aardse en die geestelike, die intellektuele en die erotiese. In 'n vertelling waarin ironieë, humor en eksistensiële insigte, mitiese elemente en magiese oomblikke ryklik vermeng is, raak die grense vloeibaar tussen wat moontlik en nie moontlik is nie". (Flapteks van Landskap met vroue en slang.) |
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
| Marion Hattingh Rapport |
LANDSKAP
VAN VROU SE STRYD AS KUNSTENAAR "Lettie Viljoen se nuwe roman, Landskap met vroue en slang, oorrompel die leser op meer as een wyse. Meesleurend is die visuele suggestiwiteit, boeiend die nie-oorsaaklike vertelwyse en kostelik die ironisering van skynsekerhede. "Soos in haar vorige roman, Karolina Ferreira (1993), herskryf Viljoen hier die tipiese 'vroueroman' - dit gaan nie hier om 'n romantiese verhaal van verlange en vervulling nie, maar die fokus is op die ervaringswêreld en - wyse van 'n vrou en kunstenaar. "Die hoofkarakter is Lena Bergh, 'n skilder wat haar bedreig voel deur 'n subtropiese landskap vol teenstrydighede. Deur haar liefde vir haar man, Jack de Leeuw, en hul kind bevind sy haar in 'n sensuele, paradyslike ruimte, 'n 'see van groen'. SKOONHEID "Lena ervaar haar omgewings as verbysterend en bedreigend. Sy voel
dat die suburbia-ruimte van die 'post-koloniale
"Haar visie raak gefragmenteerd en sy voel dat sy nie meer hier met haar bronne van energie en 'verrukking' in aanraking is nie. "Sy kontrasteer hierdie welige groen Natalse kusland met die vrye, voedende blou landskap van die Boland waar haar eerste man haar verlaat het en waar haar familie steeds woon. "Die ideale landskap waarna Lena verlang, is 'n intigrerende
grenslose een wat sy veral vind in die sobere ruimtelike konstruksie van die sewentiende
eeuse Franse skilder Nicholas
Poussin ORIËNTERINGSPUNT "Die volgende beskrywing van Poussin se skildery 'Winter' dui op die metaforiese waarde van hierdie skilder se werk vir Lena se eie psigiese stryd as kunstenaar: 'Tegelyk onheilspellend (beklemtoon deur die teenwoordigheid van die slang) én weelderig'. "'Tegelyk paradyslik en subliem, primordiaal en misterieus - verwarrend sowel as verblindend in die oorvloed daarvan'. BEGEERTE "Lena en haar man is hoofsaaklik ingestel op hulself en die genietinge van die skone. Politieke betrokkenheid word beperk tot die waarneem van mediabeelde, en swart mede-karakters figureer as stereotipiese huishulpe. "Die radio-inbelprogram van dr. Kafka en Martjie dien vir Lena as substituut vir kontak met die 'volk'. "Die oorvereenvoudigende wyse waarop dr. Kafka almal se probleme met 'waagmoed en durf' oplos, angste besweer en aan alles name gee 'soos Adam in die paradys', word telkens geïroniseer, maar so ook die diskoers en leefwyse van die intellektuele en kunstenaar. LEEFWYSE "Met hierdie roman bewys Lettie Viljoen haar as waardige opvolger van die doyen van die Afrikaanse satire, Etienne Leroux. Die boeiende ineenvleg van verskillende diskoerse, visuele beelde, tyd-ruimtelike en bewussynsvlakke is meevoerend en dikwels word die leser uitgedaag om téén die grens van betekenis aan te lees, met die ervaring van die sublieme as beloning! |
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
| JP SMUTS Insig |
Europese landskap van gees "Hierdie is Lettie Viljoen se vyfde prosawerk. Die eerste twee kort romans, Erf en Klaaglied vir Koos, is gevolg deur die omvattende Belemmering (1990) waarin sy gewys het sy het 'n deeglike greep op die lang prosateks. Dit was egter veral met Karolina Ferreira (1993) dat sy 'n wesentlike bydrae tot die Afrikaanse literatuur gelewer het. Dié werk, een van die belangrikste romans van die jare negentig, wek uiteraard groot verwagtings omtrent enigiets wat daarop volg. "Landskap met vroue en slang is 'n duidelik herkenbare Lettie
Viljoen-werk, maar dit is terselfdertyd 'n roman wat grondig verskil van sy voorgangers.
Soos die vorige werke, het dit 'n feministiese "Wat egter opmerklik anders is, is dat die verhaalstruktuur radikaal verskil. In Belemmering, maar veral in Karolina Ferreira, was jy jou bewus van 'n herkenbare lyn in die ontwikkeling van die gebeure. Veral in laasgenoemde roman was daar opbouende spanning wat gevra het om 'n verheldering aan die einde. "Landskap verloop heel anders. Dit blyk reeds uit die tipografiese aanbod van die werk. Die net minder as 200 bladsye romanteks bestaan uit 29 hoofstukke, en elkeen van hierdie hoofstukke is weer in genommerde onderafdelings verdeel. Dié afdelings wissel van twee tot dertien per hoofstuk, en etlikes is slegs een paragraaf. In die geheel is daar presies 150 van hierdie onderverdelings. Die hoë frekwensie van die besonder kort paragraaf dwarsdeur die roman val ook op - 'n groot aantal paragrawe bestaan slegs uit een kort sin. "Die blote aanbod van die roman wek dus die verwagting dat jy hier eerder 'n mosaïek van gebeure, ervarings en impressies gaan kry as 'n deurlopende lyn. En dit is inderdaad wat jy vind as jy die roman begin lees. Die werk maak by tye 'n fragmentariese, amper assosiatiewe indruk. Deur die optekening van die klein ervaring, drome, die kommentariëring op die fisieke en die seksuele, die verslae oor bure en bediendes en die gesprekke met vriendinne, verkry die verhaal by tye iets van die aard van 'n dagboek en outobiografie, ook deur die sterk persoonlike wyse waarop die ervaringswêreld van die hooffiguur gerapporteer word, al is dit dan deur 'n eksterne verteller. "Die drie komponente van die romantitel, landskap, vroue en slang, is aanwysers van belangrike fasette van die werk. Die roman is in die eerste plek inderdaad die verhaal van vroue - met uiteraard, onlosmaakbaar daarvan, die rol wat mans in hul lewens speel of gespeel het. Die hooffiguur is Lena Bergh, 'n geskeide vrou wat na haar katastrofale eerste huwelik getroud is met Jack de Leeuw. Lena is 'n skilder, en sy kom uit 'n kunssinnige gesin: haar ma het geteken, haar een suster Edda begin met beeldhouwerk, en haar ander suster, Sofie Brand, is ook 'n skilder. Dit val deurgaans op hoe besonder opgeskerp die hooffiguur is vir die visuele, veral vir kleure en vorms. Sy is ook sterk bewus van die natuur. "Lena het na haar tweede huwelik uit die Wes-Kaap na Durban verhuis, en hierdie
twee ruimtes, asook die Karoo, speel 'n belangrike rol in haar lewe. Dit skakel dus met
die landskap in die titel, hoewel landskap in hierdie roman ook in 'n baie sterk mate
saamhang met die artistieke landskap soos dit in landskapskilderye uitgebeeld is, veral in
die werk van
Poussin "Landskap hang verder saam met die tydsaspek in die verhaal. Die roman strek naamlik oor net bietjie meer as 'n jaar, van vroeg Oktober tot midsomer van die volgende jaar. Dit beteken dat die landskap deur al vier seisoene gaan in die loop van die werk. Die seisoene wek bepaalde assosiasies. Lena se eerste man het haar byvoorbeeld in die winter verlaat, en daarom bring die winter vir haar die herinnering aan negatiewe emosionele ervarings. "Landskap skakel voorts met die paradyslike opset, en dié verband word duidelik gelê deur Lena se interpretasie van die laaste deel van Poussin se landskapsiklus waar sy dié skildery sien as 'n dubbelsinnige mag: 'Tegelyk onheilspellend (beklemtoon deur die teenwoordigheid van die slang) én weelderig, vrugbaar. Tegelyk paradyslik en subliem, primordiaal en misterieus - verwarrend sowel as verblindend in die oorvloed daarvan.' "Binne die paradys is daar die slang. Die slang is die bose, die ongeluksbringer, die verleier, die man met sy seksuele drif en drang na die vrou. Die slang rig sy aanslag op die vrou, bring haar tot 'n val en laat dus die paradys verlore gaan. Sodoende word die slang 'n lotsbepalende faktor in die lewe van die vrou. "Groot dele van Landskap kan gelees word as 'n verslag oor 'n vrou se lewe in die vroeg-middeljarige, voormenopousale tydperk, 'n periode waarin sy besin oor die loop van haar lewe en ook seksueel besonder opgeskerp is. So word landskap in hierdie roman metafoor vir die geestelike en emosionele ruimtes van die vrou en kan dit geskakel word met haar hoop en verlangens, maar ook met haar vrag van emosionele laste en frustrasies. "Die werk reik uiteraard verder as slegs die lotgevalle van een vrou, al staan Lena Bergh vir die grootste gedeelte van die verhaal in die sentrum. Die meeste van die ander vroue is persone wat hulle op die een of ander wyse bevry het of probeer bevry van die bande wat hulle bind binne die huwelik. Lena het van haar eerste man geskei, Edda het van hare weggeloop, en ook Mollie Bloem, die buurvrou op 'n laer sosiale trap, is in verset teen haar man Dyf. "Die roman kom egter veel verder as 'n blik bloot uit die hoek van vroue op die rol wat mans in hul lewens speel of gespeel het. Veral in die weergawe van die oorwegend gelukkige huwelik van Lena en Jack toon die outeur 'n verbasende gevoeligheid vir die subtiele wisselwerking wat daar in so 'n verhouding is. "Landskap met vroue en slang is 'n verwikkelde en veelduidige roman wat eise aan die leser se erudisie stel - jy moet jou byvoorbeeld op die hoogte bring van die werk van enkele skilders om die ontledings van bepaalde skilderye, wat deel vorm van die roman, sinvol te kan volg. Die gekose struktuur maak dit by tye ook vir die leser moeilik om sekere passasies as deel van die geheel te sien. Wanneer sy egter wel duidelike samehang skep, sien jy die outeur op haar beste. "Die opvallendste voorbeeld hiervan is die dertiende hoofstuk, 'Die besoek', wat ongeveer in die middel van die roman lê. In hierdie gedeelte, wat met sy 28 bladsye verreweg die langste hoofstuk in die roman is, gaan Lena terug na die Wes-Kaapse dorp waar haar ouers gebly het om haar pa se graf te gaan besoek. Die hele hoofstuk speel af binne hierdie enkele ruimte, en dié konstante ruimte dra daartoe by om eenheid te skep. "Dié besoek is om 'n verdere rede emosioneel gelaai. Die dorp is naamlik ook die plek waar Lena se eerste huwelik tot 'n einde gekom het - intertekstuele skakeling met Viljoen se twee eerste romans kan hier nie misgekyk word nie. Laasgenoemde ervaring word deur Lena herbeleef as sy in die park gaan wandel waar sy, nadat haar man haar verlaat het en sy baie ontsteld was, dikwels gaan stap het. "Tydens die besoeke aan die begraafplaas en park, loop Lena verskeie dosente raak by wie sy as student klas gehad het. Hierdie herontmoetings na baie jare aktiveer komplekse emosies by haar, ook van erotiese aard. "Dit is interessant dat die begraafplaas hier, soos in Karolina Ferreira,
as 'n belangrike ontmoetingsruimte gebruik word, en dat Lena se huis in Durban "Landskap bevat knap tonele en getuig van die outeur se besonder fyn waarneming van die kompleksiteit van die wisselende emosionele spektrum in menslike verhoudings. Dit is egter ook waar dat daar soms oordrewe mistifikasie is, veral in gedeeltes waar die aksent wegswaai na gestaltes soos die majoor en die koning wat nie deel vorm van Lena se gewone bestaan nie. "Die talle onderafdelings en die amper staccato-agtige ritme wat die roman soms verkry in gedeeltes waar die paragrawe agtereenvolgend baie kort is, bring ook soms 'n verbrokkeling in die verhaalgang wat die leser se taak verder bemoeilik. Miskien is die funksie hiervan juis om 'n dekonstruksie van die tradisionele romandiskoers te bring, maar dit bly 'n vraag of die werk op die ou end genoegsaam daarby baat. "Landskap met vroue en slang is beslis nie 'n roman sonder sy pluspunte nie, maar die meeste lesers sal dit sekerlik 'n minder toeganklike werk as Karolina Ferreira vind en ten slotte ook nie heeltemal op dieselfde hoë vlak as dié voortreflike voorganger nie.
|
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
| Thys Human Volksblad |
DIE KOMPLEKSE LANDSKAP VAN BEGEERTE "Lcttie Viljoen se vyfde prosateks Landskap met vroue en slang is in vele opsigte 'n voortsetting, verruiming en intertekstuele sametrekking van die belangrikste motiewe in haar reeds indrukwekkende oeuvre. Wat narratiewe ordening betref, herinner die roman veral aan Klaaglied vir Koos, Erf en Belemmering. Tog sou dit onregverdig wees om die roman slegs in terme van haar vorige werk (en veral die bekroonde Karolina Ferreira) te lees, aangesien interessante en verrassende vondse sodoende verlore (kan) gaan. "Van 'n sterk storielyn in die tradisionele sin van die woord is daar bykans geen sprake nie. Landskap met vroue en slang is veel eerder 'n 'barokagtige' woordlandskap waarin die hooffiguur-skilder, Lena Bergh, se ambivalente verhouding met haar man Jack de Leeuw, haar hunkering na en obsessie met die sublieme landskap en haar verhouding met haar familie en vriende, verhaal word. Op dié stramien word die wederervaringe van Mollie Bloem en Johnny Deventer, die filosofiese insigte van Mara Darboven asook die beswerende stemme van dr. Kafka en sy assistente Martie uitborduur en dit verleen aan die roman 'n unieke tonaliteit en tekstuur. "Die titel Landskap met vroue en slang berei die leser reeds voor op die sentrale plek wat landskap(pe) en landskapsbeskrywings in die roman speel. Lena ervaar die subtropiese kuslandskap waarin sy haar bevind as verwarrend, oorweldigend en bedreigend. Aangesien sy dikwels 'n 'knaende, rustelose begeerte na afwisseling, na 'n ander landskap, na 'n duidelike variasie op haar direkte omgewing (p.50)' het, kontrasteer sy dié beklemmende landskap met die weerklinkende blou landskap van die Wes-Kaap, die uitgestrekte Karoolandskap en die 'blonde' landskap van die Vrystaat. In haar koorsige soeke en begeerte na die sogenaamde 'sublieme landskap' begeef sy haar op wandelinge deur tuine, parke en botaniese ruimtes wat haar op 'n 'nuwe manier kan aanspreek'. "Net soos in Nicholas
Poussin "In die roman is daar sprake van 'n konfrontasie tussen die hede en 'n moeilik verwerkbare verlede. Lena se obsessie met haar persoonlike en kollektiewe geskiedenis, verhinder haar om die woorde van die Kafka-vrou uit Praag, naamlik: 'vergeet wat verby is, (s)it dit agter jou' uit te leef. Lena beny haar suster Edda dat sy haar verlede (geskiedenis) kan agterlaat. Kort voor hulle vader se dood 'het Edda sonder letsel uit 'n verongelukte motor geklim, soos uit 'n ou, vroeë, stukkende self.' Later verlaat sy haar man en kinders en 'beweeg na 'n plek wat nie enige aansprake op haar aandag maak nie' (p.179). In haar soeke na vervulling beskou Lena haar vader se graf as plek van versoening, klaarheid, vervulling en transformasie (individuasie?). Tog word sy herhaaldelik deur mans uir haar verlede verhinder om by die graf uit te kom. "Dit is egter eers tydens die lykskouing van die jong meisie dat die verskillende motiewe op besonder vernuftige wyse saamgetrek word; die liggaam as landskap, Lena se soeke na en kleurevoorkeur ten opsigte van die sublieme landskap, haar ambivalente gevoelens en 'n uiteindelike aflegging van die verlede. Tog word daar by 'n netjiese narratiewe sluiting verbygeskryf. Net soos in Viljoen se ander romans word die patriargale sisteem ondermyn en die tekstuele marginalisering van die vrou (as skrywer, maar ook as held en minnaar) doelbewus bevraagteken. "Landskap met vroue en slang is 'n meesleurende en oorrompelende leesavontuur, waarin die leser uitgedaag word om aktief deel te neem aan die betekeniskonstruering van die teks. Vir die leser wat hierdie uitdaging aanvaar, ontvou daar 'n ryk en enorm betekenisvolle tekstuele landskap. |
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
| Thys Human "'n Wêreld sonder grense?" |
Uittreksel uit die tesis
waaraan Thys Human tans werk Randse Afrikaanse Universiteit DEPARTEMENT: Afrikaans MOTIVERING Lettie Viljoen se prosatekste word dikwels verkeerdelik as besonder ingewikkeld en moeilik verstaanbaar voorgehou. 'n Moontlike rede hiervoor is dat resensente in aanvanklike besprekings van haar tekste ongevraagde literêr-teoretiese raamwerke as vertrekpunte by die interpretasie en evaluering daarvan neem, met die gevolg dat talle aspekte daarin nie werklik verklaar kan word nie. Die talle eksplisiete en implisiete verwysings na kolonialisme en postkolonialisme in Karolina Ferreira en Landskap met vroue en slang dui egter daarop dat Viljoen se oeuvre, en veral haar laaste twee romans, moontlik postkolonialisties meer sinvol gelees kan word. Die plasing van hierdie twee romans binne 'n postkoloniale raamwerk skep die moontlikheid om die volgende sake betekenisvol te interpreteer:
Die doel met die verhandeling is nie net om tot 'n meer sinvolle en volledige ontsluiting van die tekste te kom nie, maar ook om 'n sistematiese instrument te ontwikkel vir die interpretasie en evaluering van Afrikaanse literêre tekste in die postkoloniale idioom. Terwyl die oorgrote meerderheid kritiese werk oor die postkolonialisme op die sogenaamde nuwe "engelse" letterkunde fokus, is die eiesoortige aard en posisie van die Afrikaanse letterkunde in die postkoloniale diskoers nog nie indringend ontleed nie. Die vernaamste insigte op die terrein van die postkoloniale literatuur en -kritiek sal geïntegreer en aan die twee Viljoentekste getoets word ten einde algemene afleidings oor postkoloniale tekste in Afrikaans moontlik te maak. Literatuur-teoretiese insigte oor die kenmerke en strategieë van die koloniale, kolonialistiese en postkoloniale diskoers sal in terme van linguistiese beginsels ten opsigte van (kognitiewe) beeldskemas en kategorieë gekonkretiseer word - om 'n instrument te lewer aan die hand waarvan die ontmaskering en ondermyning van koloniale strategieë en die ontwikkeling van Lettie Vlljoen se oeuvre onder hierdie opsig onderneem sal word. Die onderhawige ondersoek is op sowel die letterkunde as die taalkunde gerig. Daarom word 'n studieleier uit elk van die onderskeie dissiplines vereis. |
|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|
![]()
Data navorsing en
samestelling deur: |
Bladsy- en grafiese
ontwerp: MedImage |