erf
Deur Lettie Viljoen
Uitgewer: Taurus 1993

Oorsig
Resensies
Akademiese Verhandeling

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Oorsig

Begin van bladsy

Resensies
Verhandeling

Hierdie teks is die tweede novelle van Lettie Viljoen. Dit is die verhaal van 'n vrou, Bets, wat sonder man en met 'n kind 'n lewenspatroon probeer vestig êrens naby die Peninsula en haar wisselwerking met Loewie, wat in 'n gevlegte hut op haar erf woon. In haar bestaan is sy dus vrou-alleen en volgens H.Zelig (Feministiese perspektiewe. Die Transvaler, 27 April 1987) weer eens óórbewus van haar seksuele afhanklikheid. In die resensie van André P. Brink, 'n Novelle vol uitdagings vir die ernstige leser. (Rapport, 21 Desember1986) toon hy aan dat Erf vele ooreenkomste toon met Lettie Viljoen se debuutnovelle, Klaaglied vir Koos.

Volgens Brink handel die teks oor hoe die hoofkarakter, Bets, haar op haar erf inwoeker "om te leer definieer aan die kontoere van haar identiteit". Die teks gaan ook oor dit wat sy erf van haar ouers, voorgeslagte, samelewing en vroeëre selwe. Die novelle belig verder 'n Afrikaanse dorp vanuit die anti-burgerlike en artistieke gesigspunt (E.C. Britz, Met 'n anti-burgerlike en artistieke oog. Die Burger, 12 September,1987.) In die novelle is daar eerstens die ek-verteller, Bets, gevolg deur die wedervaringe van Agnes en dan 'n kort deel wat handel oor 'n vrou, Sally Williams. Bets leef, volgens Britz, vervreem - letterlik of figuurlik - van haar ouers, man, kind, bure en ook van die groep bruinmense wat in armoede op haar erf plak.

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Resensies
deur:

H. ZELIG,Feministiese perspektiewe Die Transvaler, 24 April 1987. (Volledig
aangehaal)

ANDRÉ P BRINK,
‘n Novelle vol uitdagings vir die ernstige leser Rapport, 21 Desember 1986. (Volledig aangehaal)
E.C. BRITZ,
Met 'n anti-burgerlike en artistieke oog. Die Burger, 12 Maart 1987.
KOOS PRINSLOO, Gepolitiseerde beeld van bestaan op ‘n dorpie. Oosterlig, 5 Januarie 1987.
JOAN HAMBIDGE, Voorwaar ‘n teks wat beïndruk. Beeld, 12 Januarie 1987

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Resensie

H Zelig

Die Transvaler
27 April 1987

Begin van bladsy

Oorsig
Resensies
Verhandeling

Feministiese perspektiewe

"LETTIE VILJOEN se Erf volg kort ná haar verfrissende, ánderse debuut, Klaaglied vir Koos. Die tweede novelle (eweneens uitgegee deur Taurus) vertel ook die verhaal van ‘n vrou met ‘n kind. Ook in hierdie bestaan is sy vrou-alleen, sonder ‘n man en weer eens óórbewus van haar seksuele afhanklikheid.

"Erf (in die sin van werf en (politieke) erfsonde) kan saam met Jeanette Ferreira se Sitate om ‘n Rewolusie en Jeanne Goossen se Lou-oond (wat later vanjaar by HAUM-Literêr verskyn) - ’n briljante novelle van die begaafde skryfster - gelees word as vroulike perspektiewe op die huidige politieke klimaat.

"Dit is onder meer opvallend dat ál drie hierdie tekste gekenmerk word deur ‘n skerp diskursiewe aanbod wat afgewissel word deur bykans inkantiewe fantasie-vlugte, meditasies - selfs skisofreniese drome. Intellek word telkens teenoor fantasie geplaas; die harde werklikheid teenoor die private droom....

"Met ‘n eerste lees van Lettie Viljoen se Erf het ek die vertelperspektief steurend, selfs brokkelrig ervaar. Die ongenoemde ek, dan Agnes, die karakter Sally Williams wat verdwyn (en later weer ópduik) het vir my gelyk na ‘n teks wat nog nie goed uitgestryk is nie. As ‘t ware ‘n eerste 'draf' wat nog nie 'uitgewerk' is nie; waarvan die details nog nie klop nie.

"Tog is dit só dat die versplinterde aard van hierdie vertelling verklaar kan word aan die hand van die spinnekop: 'Aan die noordekant van Bets se huis by die eetkamervenster laat ‘n spinnekop op ‘n dag haar lyf teen die verdonkerde, verdunde indigo lug sak. Haar eerste taak is om vinnig en sekuur ‘n raamwerk te spin. Dit neem haar ongeveer tien minute. Dan werk sy stadiger aan die weef van die konsentriese binnedrade van die web. Sy begin buite en werk binnetoe.' (p 58). Die spinnekopmotief verduidelik die versplinterde aard, die onvermoë om ‘n volledige prent te skilder. (In hierdie opsig is die verwysing na skilders eweneens belangrik! ‘n Mondriaan en Manet in Afrika).

"Hierdie teks se onvermoë - dalk onwilligheid? - om ‘n kompromislose feministiese perspektief te gee (à la Virago Press, et al.) is vir hierdie leser die boeiendste aspek van Erf. Die vrou kan haarself net in terme van ‘n man definieer en die paslike verwysings na Freud Buite skakel- vir wie die vrou ‘n gekastreerde objek was - ondersteun hierdie interpretasie.

"Die diepste pyn wat hierdie vrou ervaar, is: 'Alles bedui uit die manlike domein' (p 43). Die vrou se siening van die werklikheid is manlik geïnspireerd - selfs ‘n man stel haar aan Freud voor!

"Een van die hoogtepunte in hierdie novelle (naas die toneel van die spinnekop!), is wanneer die ek besef Freud het gelyk (vir haar): 'Na ‘n rukkie gaan ek op die stoep uit. Die wolke het weggetrek. Ek gaan wéér berg toe. Ek kom terug en skraap al my moed bymekaar, neem my kleinste spieëltjie en kyk na myself tussen die bene. Freud was reg, so voel dit. Die onweerlegbare outoriteit van sy manlike stem. En daarbenewens, die verskriklike, ondergrawende dwáng van die moederstem. My reis was verniet, al my gestreef trouens, so voel dit' (p 71).

"Kritici het reeds gewys op die soms foutiewe taalgebruik. Hier voel ‘n mens dat die uitgewer veral verkwalik moet word. Taurus publiseer opwindende, alternatiewe tekste, maar net te veel tekste word ontsier deur onfunksionele taalkundige goggas. (Kyk byvoorbeeld ook na Hans Pienaars se Die lewe ondergronds). Taalkundige versorgers kán tog hierdie foute verwyder?

"Erf van Lettie Viljoen is ‘n knap tweede novelle van die Stellenbosse skryfster. Dié boek is nie onmiddellik toeganklik nie; daarvoor is die vertelperspektief plek-plek té ingewikkeld, die verwysings sekerlik aan die gemiddelde leser onbekend.

"Die boek het pas die kortlys van die Rapport Buite skakel-prys gehaal - een van die min tekste wat dié nominasie werklik verdien. Veral gedagtig aan die feit dat digbundels soos TT Cloete se Idiolek én Johann de Lange se Snel grys fantoom uitgelaat is, terwyl ‘n mindere teks soos Philanders se Obstrakon wél die beoordelaars genoegsaam beïndruk het.

"Kan dit? Of is die politiek besig om met die Rapport beoordelaars weg te hardloop? So much vir die literêre oordeel. -H. Zelig."

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Resensie

André P.
Brink

Boekerapport Buite skakel Redakteur

21 Des 1986

Begin van bladsy

Oorsig
Resensies
Verhandeling

'n Novelle vol uitdagings vir die ernstige leser

"LETTIE VILJOEN (Ingrid Scholtz) se tweede novelle, Erf (pas gepubliseer deur Taurus, R13,50), kom lê soos die tweede vlerk van ‘n diptiek langs haar eerste, Klaaglied vir Koos.

"Ook hier verwikkel die verhaal rondom ‘n vrou met ‘n kind, en sonder ‘n man, wat te midde van die tierende geilheid van die natuur ‘n lewenspatroon probeer grondves;

"ook hier word haar private bestaansruimte sowel bedreig as aangevul deur ‘n plakker op die erf;

"ook hier word verhoudinge met ander en na buite intensief in meditasies gevisenteer;

"ook hier broei ‘n brandende seksualiteit onder die opppervlak van ‘n skerp intellektueel waargenome wêreld.

"Sou ek uiteindelik tog Klaaglied verkies? Dan sou dit wees om sy koherensie, oor die middelpuntsoekende sáámdig van al die drade van ‘n lewe in een organiserende sentrale bewussyn in. Maar keuse is tog onnodig.

"Want op soveel ánder maniere is Erf ‘n verrykende leesavontuur: nie net bevestiging van die skryfster se indrukwekkende talent nie, maar ook verruiming daarvan.

"Ten eerste is die slim gekose titel ‘n vrugbare gegewe: die teks werk nie net uit hoe die hoofkarakter Bets haar op haar geil erf inwoeker om te leer definieer aan die kontoere van haar identiteit nie: dit gaan ook om wat sy erf van haar ouers, haar voorgeslagte, haar samelewing, haar vroeër selwe.

"En met dié uitgangspunt is die leser toegerus vir die avontuur van sy ekspedisie - inspedisie! - deur die teks. Want saam met Bets en haar ontwikkelinge op die storievlak beweeg ook ander storiedimensies.

"Daar is eerstens ‘n ongenoemde 'ek' wat telkens onderbreek met hewig liriese passasies van besinning of versugting, beginnende al op p. 2 met die kriptiese opmerking: 'Toe my kind vyf is, het haar ma haar ontval': hiermee word die 'gewone' taal semantiese geweld aangedoen, want hier gaan dit nie om dood nie, maar om ‘n soort geestelike afstandsname; terwyl die verbasende tydsjukstaposisie - 'is ... het' - die leser moet waarsku dat hier op ongewone en soms verbysterende manier met chronologie omgegaan word!

"Ten tweede is daar die wedervaringe van Agnes, ‘n vrou wat haar naarstig in die politiek probeer inwerp deur haar betrokkenheid by ‘n veelrassige 'gespreskgroep' - ‘n storielyn wat volgehou word tot die einde van afdeling 1, op p. 49, en dan 'doodloop'.

"Daar is ook, derdens, ‘n kort lyntjie wat te doene het met die vrou 'Sally Williams' uit Cradock wat reeds op 20 terloops vermeld word, drie jaar storietyd vóór sy op 46 eers in die storie opduik: hier word vermeld dat sy haar nooit genoemde 'óú naam' laat vaar en Sally Williams 'word'.

"Wat dan ‘n sleutel mag verskaf tot die storiebestaan al dan nie van Agnes en kie: ook húlle figureer naamlik eintlik as dubbelgangers, komplemente, variante van Bets.

"En daarme word die geskakeerdheid van die teks iets heel besonders.

"Maar daar is ook nóg ‘n storielyn ter sake om die ingewikkelde maaswerk van die verhaal te verryk, en dit is die sentrale figuurtjie van die spinnekop wat veral vanaf 58 ‘n byna obsessionele narratiewe 'onderbewuste' of 'gewete' vir die gebeure vorm (asook, dalk, ‘n teken van die manier waarop die teks en sy verteller ‘n web spin om die leser in te vang?!): haar spinnerak word meestal teen sononder beskryf, dus teen die agtergrond van ‘n apokalips, ‘n bloedige en skouspelagtige ondergang.

"En dit is waarom dit op stuk van sake in dié novelle gaan: die klein stuiptrekkinge van ‘n versameling individue op die rand van hierdie land se huidige apokalips.

"Heeltyd flakker die geweld op die agtergrond, in die townships, in nuusberigte, in oorloë en gerugte van oorloë, gedemp, understated, onheilspellend; soms met skitterende opvlamminge van ‘n surrealistiese verbeelding (één voorbeeld: p. 20).

"As daar in die teks sprake is van 'Manet in Afrika', van 'Monet in Afrika', van 'Cézanne in Afrika', ensovoorts, dan is daar minstens by implikasies ook ‘n Dali in Afrika en ‘n Jeroen in Afrika aan ‘t werk.

"Dit mag wees dat die verwikkelinge van die veelvuldige storie soms te kripties geskied, nie oral werklik ver genoeg uitgewerk word nie, daarom soms sketsmatig aandoen. Maar as geheel is Erf ‘n teks vol uitdaging aan die ernstige leser.

"En vol winste: nie die minste nie, op die vlak van ‘n skerp satirise skildersoog, ‘n soort 'hardegattigheid' wat met verruklik onverwagte vondste vorendag kom.

"Aan die negatiewe kant is daar soms te veel wollerigheid, dalk veroorsaak deur ‘n te 'private' manier van skryf, wat die teks nie oral van sy naelstring laat loskom nie.

"En ook: ‘n onversorgdheid met betrekking tot taal, waar die uitgewer werklik met ‘n bietjie basiese redaksionele arbeid (‘n vanselfsprekendheid by die meeste uitgewers) kon hand bygesit het.

"‘n Spelling soos 'summersault' i.p.v. 'somersault', of 'deinserig' i.p.v. 'dynserig', onnodige gedroggies soos behalwe vir', 'prieël', 'Hatie was die laaste een om hom Vrydag te sien', 'linkerkantste', ensovoorts, ensovoorts, is gewoon nie nodig nie.

"Maar dan nog is Erf ‘n novelle wat die leser kwel, uitdaag, genot verskaf, tart, oprui en bevredig; ‘n teks wat lees dubbel en dwars verdien" - André P. Brink

Begin van bladsy

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Resensies
(opsommings)

Oorsig
Resensies
Verhandeling

E.C. BRITZ, Met 'n anti-burgerglike en artistieke oog, Lettie Viljoen se ‘Erf’ verdien waardering. Die Burger, 12 Maart 1987
Erf is ‘n moeilike boek om te lees, maar is om twee redes voorwaar die moeite werd. Eerstens omdat Erf ’n "Afrikaanse dorp vanuit ‘n anti-burgelike en artistieke gesigspunt belig" en tweedens deur Bets se 'psigo-sintuiglike sensitiwiteit wat "die basis vorm van ‘n merkwaardige bevreemding van die natuur". Die boek verdien waardering en ernstige bestudering.

KOOS PRINSLOO, Gepolitiseerde beeld van bestaan op ‘n dorpie. Oosterlig, 5 Januarie 1987
Die tweede novelle van die skryfster Lettie Viljoen "bied vanuit ‘n vroue-perspektief ‘n sterk gepolitiseerde verslag van ‘n alledaagse dorpsbestaan" en handel onder andere oor die wisselwerking tussen ‘n vrou en ‘n man wat in 'n hut op haar erf woon.

JOAN HAMBIDGE, Voorwaar ‘n teks wat beïndruk. Beeld, 12 Januarie 1987
Dit is nie ‘n maklik toeganklike boek nie, maar voorwaar ‘n indrukwekkende teks. ‘n Groot kompliment vir die skryfster is dat sy "uit die paranoia van die pre-revolusionêre psigose ‘n gedistansieerde, beheersde vertelling kon weergee". Freud Buite skakel word op indrukwekkende wyse aangewend om die motiewe vir menslike gedrag te ontleed.

Begin van bladsy

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|


Akademiese
Verhandeling:

Christell
Stander

Uittreksels uit haar ongepubliseerde honneursskripsie.
1988

Oorsig
Resensies
Verhandeling

'n Ontsluiting van enkele ideologiese aspekte in die teks: Erf van Lettie Viljoen

Christell Stander

Ongepubliseerde honneursskripsie 1988
Universiteit van Wes-Kaapland Buite skakel
Studieleier: PJJ Conradie

Inleiding

"Indeterminacy affects all phenomena, great and small, but its significance is usually confined to the microphysical domain"

Hierdie openingswoorde van die teks Erf van Lettie Viljoen (1986) is simptomaties van die teks as geheel: nie net berei dit die leser voor op die onbepaaldheid, onbegrensdheid, onbeslistheid en onbeperktheid wat hierdie werk kenmerk nie, dit gee ook 'n leidraad oor hoe die teks as geheel binne die teks van die maatskappy gelees moet word. Wat daar op die leser wag, is 'n teks sonder 'n eenduidige en kompromislose perspektief wat dit tot 'n koherente geheel saamtrek, soos byvoorbeeld in Lettie Viljoen (1984) se vorige teks, Klaaglied vir Koos, of in Jeaneatte Ferreira: (1985) se Sitate om 'n Revolusie, of Jeanne Goosen (1987) se Louoond.

Hierdie veelduidigheid maak die teks enersyds moeilik leesbaar, selfs ontoeganklik met eerste oogopslag, maar andersyds is dit 'n verrykende leeservaring juis omdat dit die leser dwing tot deelname aan die teks. Met die lees van Erf word die leser voor die taak gestel om 'n "counter"-teks te skep deurdat dit uitdaag, deur spore te laat van 'n feministiese aard, van 'n ras-politieke aard, van 'n ekonomies-politieke aard en ook oor wat breedweg as die rol van die subjek binne maatskaplike verband beskryf kan word, om slegs enkeles te noem. Hierdie spore vertoon 'n vervlegtheid met mekaar sodat die teks 'n komplekse netwerk vorm waarbinne die leser uitgelok word om verbande te lê.

Op bladsy 26 word attent gemaak hierop: "En in geval dat sy vergeet het (dink sy)...hoor sy hoe belangrik dit is om onderskeidings te tref en verbande te 1ê", net om uiteindelik tot die besef te kom van die onmoontlikheid en futiliteit van so 'n projek. Aan die einde van die teks kan daar immers geen vordering, in die tradisionele sin van die woord, getoon word nie en daar word afgesluit deur juis weer oop te maak met 'n verwysing na nog 'n teks, naamlik 'n ander geskiedenis wat opgeteken word: "Hy lag asof hy die feite meedeel, maar die sleutel tot hierdie kennis weerhou. Toe gaan hy voort - hy vertel haar verder van die wedervaringe van Mbuyisele. Hy sê dat hy uiteindelik die jong man se besondere lewensverhaal begin neerskryf het" (l03).

Die negatiewe reaksie wat Erf van die meeste resensente daarvan gekry het, lyk die gevolg van hierdie aspek daarvan te wees. Die onsekerheid waarmee die resensente die boek benader het, is myns insiens die gevolg daarvan dat die teks vra om 'n post-modernistiese lesing. Dáárvan spreek nie net die openingswoorde van die teks en die veelduidigheid daarvan nie, maar ook die gelaagdheid van die verteltegniek, die verwysings na en gesprekke oor onderwerpe wat nie "streng literêr" is nie, soos xileemmorfologie, Freud en Mondriaan, asook die besondere digtheid waarmee geskryf is. Daarmee word literêre grense deurbreek; aan die een kant word die skeiding tussen literatuur en "teorie" vervaag en aan die anderkant neig die prosa om soos poësie gelees te word. Om dus reduksionisties te werk te gaan met die teks, soos die meeste resensente, is uit die staanspoor 'n benadering vat onsensitief is vir die vernuwende aspekte daarvan. Daarom is die doel van hierdie skripsie om die teks Erf binne postmodernistiese Buite skakelverband te plaas en te lees as voorbeeld van 'n nuwe ontwikkeling in die Afrikaanse letterkunde.

Uittreksel uit die afdeling: Samevatting: leesstrategie (Vanaf bl. 48-50)

Dit is die doel van hierdie skripsie om (enkele) verbande te 1ê tussen Erf en die teks van die tyd waarbinne dit bestaan. Dit sal dus rig op enkele spore in dié teks, en dit ontsluit as ideologiese elemente wat in betrekking staan tot die langue van die samelewing. Die teks Erf se posisie ten opsigte van die Simboliese orde sal daarom nagegaan word.

Die wyse waarop dit gedoen sal word, sal wees om te fokus op veral vier aspekte van die teks; Erf (maar ook van die maatskaplike teks). Eerstens sal die strukturele samestelling nagegaan word, die opeenstapeling van gebeure, van karakters, van verwysings, die omgaan met tyd, die figurering van die verteller(s). Die taalelemente, dit wil sê die vorm van die teks en veral die veelstemmigheid daarvan, sal dus ten eerste ondersoek word. Híér sal die teks ook as oortredingsgebied ondersoek word, as produktiewe gebied waar die Semiotiese die Simboliese ondermyn. Daar sal vergelykend na ander tekste verwys word om die aannames oor Erf te versterk. Tweedens sal ek fokus op die wyse waarop die subjekte geleidelik tot stand kom in die teks. Daar sal gewys word op die Oedipale (of teen Oedipale.)... en weer eens op die Semiotiese soos teenoor die Simboliese. In die derde paragraas sal eksplisiete feministiese spore nagevolg word, byvoorbeeld die verwysings na Freud, en verbande gelê word tussen hierdie "spore aan die oppervlak" van die teks en die reeds nagevorsde feministiese elemente. In die vierde en laaste paragraaf sal die wyse waarop die maatskaplike subteks deurkom in Erf, nagegaan word. Klas- en raspolitieke aspekte sal ondersoek word. .

Met hierdie lesing word nie 'n absolute, uitsluitende en afgeslote interpretasie van Erf bedoel nie. Dit is eerder 'n interpretasie naas die interpretasie: Erf en naas die interpretasies van die resensente daarvan. As "couter"-teks fokus dit hoofsaaklik op Erf maar op so 'n wyse dat dit die teks waarin Erf ingebed is as spoor, in berekening wil bring.

Die lesing word veral gestuur deur die aanname dat Erf as uitgebreide voorbeeld van postmodernisme Buite skakel beskryf kan word en in daardie verband wil dit wel die lesing van die (meerderheid) resensente...daarvan remedieer. Dit gaan dus uit van 'n postmodernistiese leesstrategie, asook van die standpunt dat die teks: Erf self só 'n leesstrategie priviligeer.

Oorsig
Resensies
Verhandeling

Slot (bl. 97 - 99)

Erf is met gemengde gevoelens deur die resensente daarvan ontvang. Almal gee toe dat dit 'n teks is wat die moeite werd is om gelees te word, maar dat dit moeilik toeganklik is. Dít is waarskynlik wat hulle uiteindelik almal oorwegend negatief stem daarteenoor: dit is 'n teks wat nie maklik beskryfbaar en beoordeelbaar is nie. Hiervan is Brink (1986: l0) se resensie die mees sprekende: "Sou ek uiteindelik tog Klaaglied verkies? Dan sou dit wees om sy (sic!) koherensie, oor die middelpuntsoekende sáámdig van al die drade van'n lewe in een organiserende sentrale bewussyn in. Maar keuse is tog onnodig." Keuse spreek tóg (so lyk dit) die finale woord by Brink, of dan 'n evaluerende benadering. Want die kriterium wat hy stel is modernisties: eenheid, sisteem, sentrale bewussyn.

Daaraan ontsnap Erf juis. Die teks ondermyn alle verwagtings wat op- gebou is in die Afrikaanse prosatradisie. Dié ondermyning vind nie plaas op dieselfde manier as (veral) Koos Prinsloo se tekste, of Louoond van Jeanne Goosen nie. Myns insiens is dit omdat Erf nader 1ê aan die Semiotiese en daarom, ten spyte van die paradoksale verbintenis aan die manlike juis vanweë die opstand daarteen, as feministies "tipeer" kan word.

Dié nou band met die Semiotiese (Brink (1986: l0) praat van die "naelstring" en Paul Hotz (1987: 8) van "impenetrable fog"') beteken dat die teks Erf as geheel nie sonder (private) konflik (van die skryfster) aan die vaderlike literêre kanon oorgegee is nie. Die teks se Oedipale ontwikkeling is daarom nie voltrek nie, daar is nie konformeer tot die Simboliese Orde nie. Deur so 'n "onafgewerkte" (cf. Zelig, 1987: 18) produk oor te gee vir publikasie, word die reëls van die spel: Letterkunde oortree.

Wat die teks red van totale miskenning, is die feit dat die outeur, na aanleiding van haar "verfrissende anderse debuut, Klaaglied vir Koos" (Zelig, 1987:18), as "talentvol" (cf. Britz, 1987: 9) en "begaafd" (Zelig, 1987: 18) beskryf is. Die verbintenis met hierdie teks ("Lettie Viljoen...se tweede novelle Erf...kom 1ê soos die tweede vlerk van 'n diptiek langs haar eerste" (Brink, 1986: l0), is feitlik die enigste sleutel vat hierdie teks toeganklik maak vir hierdie resensente. Hulle kan (wil?) beswaarlik teruggaan op hulle opinies en daarom word 'n middeweg gekies, waardeur min gesê word oor die nuwe teks, maar wel algemene uitsprake gemaak word in terme van die eerste, onder andere dat die "nie net bevestiging [is] van, die skryfster se indrukwekkende talent nie, maar ook verruiming daarvan" (Brink, 1986: l0). Slegs Joan Hambidge (1987: 6) beskryf dit as: "enorme tegniese vooruitgang op die debuut".

Ek wil die onsekerheid omtrent Erf toeskryf aan die volgende: Erf is nie 'n teks wat tipeer kan word nie (selfs om dit as novelle te beskryf is reeds problematies). Dit is nie 'n teks wat haarself tot seksuele objek maak nie, daarvoor figureer die (Semiotiese as) pre-Oedipale te sterk. Hierdie aspek daarvan word deur geen resensent (h)erken nie; die huiwerige verbintenis tot die Simboliese is deel van die tekstuele en nie 'n teken van die skryfster se onvermoë nie. Hierdie verklaring is waarskynlik ook die rede waarom 'n teoretikus soos J Degenaar nie Viljoen se tekste saam met dié van Prinsloo, Goosen en JM Coetzee (Foe) noem as voorbeeld van postmodernistiese werk nie.

In die teks is daar (in die vorm van'n (manlike) superego) 'n bewussyn van die (manlike) eise gestel deur die literêre kanon. Daar is ook die voortdurende besef dat die teks nie hieraan voldoen nie, maar bloot 'n afgeleide is; daarom maak dit plek vir 'n "groter" (manlike) teks, dié van die sonderlinge verhaal van Mbuyisele opgeteken deur Harie (l03), soos in "Wolkie" (Viljoen, 1983: 21): "Ek stel nie belang in 'n storie nie. Net maar meedoënlose progressie, of noem dit reëlmaat. As jy 'n storie wil lees, lees die geskiedenis van die ANC, of die geskiedenis. van die huis van Phalo". Die titel toon ook, in die verwysing na die beperking van (mikrofisiese) gebiedsafbakening en die beperkende manlike tradisie, 'n sensitiwiteit vir die resepsie wat só 'n produk noodwendig sal ontvang. Die skryfster weet dat verbande gelê en onderskeidings getref moet word (26). Aan hierdie eis van die Simboliese is voldoen slegs sover dit nodig is om die teks intertekstueel toeganklik te maak. Sy stel daarom nie belang daarin om aan die leser se modernistiese verwagtinge te voldoen nie; deurdat erken word dat sy haar bepaal by die mikrofisiese by 'n (persoonlike) interpretasie soos teenoor 'n verteenwoordigende interpretasie van die geskiedenis.

Daarmee word Erf 'n belangrike voorbeeld van 'n postmodernistiese teks en een van die enigste feministiese tekste in Afrikaans.

Begin van bladsy

|Tuisblad|Oeuvre|Biografie|Publikasies|Projek|Kunswerke|Klaaglied|Erf|Belemmering|Karolina|Landskap|

Data navorsing en samestelling deur:
Nelia Oets
Baukje Stam
Janine Joubert

Bladsy- en grafiese ontwerp:
MedImage
agapeicon.jpg (3938 bytes)